Studentevereniging
DEPARTEMENT GESKIEDENIS SE MUURSKILDERING
… geskiedenis deur die gange …
Stephen Spender
’n Kombinasie van vyftien meter katoenstof, ses en dertig meter gekleurde kleefband, twintig verfkwaste, dertig bottels verf, ses dosente en naastenby een honderd studente het ’n bont kleureprag op die gewoonlik vaal mure van die Department Geskiedenis te voorskyn gebring. Binne ’n week het die departement se gange én beeld ’n radikale gedaanteverwisseling ondergaan. Studente en dosente het leuses en prente geverf wat dít wat hulle as die geskiedenisdissipline beskou, voorstel. Die gevolg is ’n kleurvolle versameling aanhalings (van verskillende bronne – van Henry Ford tot Karl Marx, Gladiator tot Wittgenstein), vrae, kommentaar oor die departement en oor onlangse wêreldgebeure, portrette, illustrasies, vlae, grappies en idees. Dit is werklik ’n uiters persoonlike belewenis van geskiedenis.
Die idee het by die Geskiedenis-vereniging ontstaan in ’n poging om nie net die Departement Geskiedenis se beslis stowwerige gange op te knap nie, maar ook om studente toe te laat om die departement en sy dosente beter te leer ken en verder ’n dieper waardering vir die onderwerp te ontwikkel. Dit word skitterend uitgebeeld op die meters kantoenstof wat teen die gebou se gange vasgeplak is; trouens, tot so ’n mate dat ons beoog om die muurskildering op die Universiteit se opedag op 27 Maart te gebruik. Wat hierdie projek (die vereniging se eerste van die jaar) so suksesvol gemaak het, was waarskynlik dat dit net soveel ’n kreatiewe oefening as ’n intellektuele een was en bewys het dat Geskiedenis tog hope pret is.
Sarah Duff