previous page

Inhoud -SJI 1995- Index

next page


tech-note

Skottels hou Suid-Afrika op hoogte

Satelliettegnologie het ’n vastrapplek gekry in die Suid-Afrikaanse mediabedryf. Met toegang tot uitsendings van die PanAmSat-4 kan meer televiesiebeelde baie huise binnedring. Marius de Jager en Filip Vandenbroeke het die tegnologiese moontlikhede van twee satelliettoepassings in die land ondersoek.

Nuwe TV & radio opsies

Suid-Afrikaners kry in Oktober ’n verskeidenheid keuses oor waarna om te kyk en te luister wanneer die PanAmSat-4 (PAS-4) satelliet in gebruik geneem word, ná dit in Augustus suksesvol gelanseer is. Met die regte toerusting sal radio en televisie nou oral in die land opgevang kan word. Buiten die huidige Suid-Afrikaanse kanale is verskeie buitelandse televisiekanale en radiostasies ook beskikbaar.

Dié diens word voorsien deur die maatskappy MultiChoice Beperk wat spasie huur op die PAS-4, en dit sal die Starwalker diens voorsien wat die afgelope tyd bemark word deur die Starwalkerkomitee.

Vier analoë kanale sal die SAUK se huidige drie televisiekanale én M-Net akkommodeer en beskikbaar wees aan selfs die mees afgeleë plekke. Verder sal dit ook die SAUK se elf radiokanale dra. Aangesien dié analoë uitsendings bykomend tot die sendernetwerk op land funksioneer, hoef mense nie spesiale toerusting te koop om televisie te kyk of radio te luister nie.

Diegene wat wel gebruik wil maak van die satelliet-uitsendings sal ten minste ’n 90 cm satellietskottel en -ontvanger moet aanskaf. Dit moet op ’n vaste basis geïnstalleer word en gerig word in ’n noord-oostelike rigting met geen obstruksies wat ontvangs beïnvloed nie.

Die ingrypendste ontwikkeling is nie net die verhoogde toegang tot Suid-Afrikaanse televisie- en radio-uitsendings nie, maar inskakeling by sestien buitelandse televisiekanale en verskeie radiokanale. Dié kanale is deur digitale uitsending beskikbaar en ’n dekodeerder is noodsaaklik vir ontvangs.

Dit funksioneer as ’n betaalkanaalstelsel waar die verbruiker inteken op sekere kanale en slegs tot hulle toegang het. Dié kanale sluit onder meer in die reeds bekende CNN, Sky News en CBS News, asook verskeie vermaakkanale soos VHI met video-treffers en Select TV.

Maksimale bereikbaarheid

Die sakformaat satelliettelefoon kan ’n bydrae lewer tot die moderne joernalistiek se noodsaak vir doeltreffende kommunikasie en bereikbaarheid.

Die sogenaamde satfone weeg steeds tussen tien en sestig kilogram, maar met verdere ontwikkeling en gevolglike gewigsverlies kan dit kommunikasie geweldig versnel ... en die wêreld nóg kleiner maak.

Satfone is nie soos selfone beperk tot stedelike gebiede en die belangrikste paaie nie, en daar kan met enige ander telefoongebruiker op die aardbol kontak gemaak word. En omdat die mobiele satfone volledig geïntegreer word in die bestaande telefoon- en selfoonnetwerke, kan satfoongebruikers skakel met gewone telefoon- en selfoongebruikers.

Skootrekenaars kan met ’n modem gekoppel word aan ’n satfoon en leêrs kan so gefaks word.

Hoe werk die satfoon? Klap slegs die skottelantenna oop, rig op ’n satelliet, waarvan die koördinate beskikbaar is in ’n handleiding, en bel. Die oproep word via die satelliet, ’n grondstasie en ’n nasionale telefoonsentrale, regstreeks in verbinding gebring met die betrokke nommer.

Die stryd om die eerste wêreldwyde netwerk het klaar losgebars. Eén van die betrokke organisasies is Inmarsat, ’n verdragorganisasie van 76 lande in beheer van nege satelliete en ’n aantal grondstasies. Dié satelliete wentel bo die Atlantiese, Stille en Indiese Oseane en hanteer wêreldwye versending en ontvangs.

Volgens Olof Lundberg, die sekretaris-generaal van Inmarsat, is sy organisasie voor in die wedloop vir ’n wêreldwye bruikbare satfoonnetwerk teen die einde van hierdie eeu. Dié netwerk, die Intermediate Circular Orbit stelsel, sal sowat R10 miljard kos.

Inmarsat ontwikkel intussen ook ’n satfoon so groot soos ’n selfoon teen ’n verwagte prys van R3 700 en oproepkoste van R6,40 per minuut.

Tot dié satfoon gelanseer word, moet ’n mens gebruik maak van die huidige generasie satfone. Afhangende van die toestel in werking, kan benewens spraak ook telekse, fakse en foto’s versend word. Aangesien klank veel minder ruimte "inneem" in die eter as beeld, kan die satfoon funksioneer met ’n laer uitsaaivermoë en ’n kleiner skottelantenna as die konvensionele mobiele televisie-waens.

’n Standaard A-model beskik oor ’n skottelantenna met ’n deursnee van 90 cm en batterye of sonpanele wat die nodige energie voorsien. Afgesien van die Inmarsat-M aktetas-satfoon (teen R37 000) het verskeie maatskappye - waaronder GTE-Plus, Marconi Marine Systems en MTI (Taiwan) - ook toestelle op die mark.

MTI se satfoon weeg 34 kg en word in ’n koffer verpak. Die pakket bevat ’n telefoontoestel, ’n sender en skottelantenna wat soos ’n sambreel kan oopklap. Die Satpax van Marconi Marine Systems (twee koffers wat altesame sestig kilogram weeg) kos ongeveer R16 000 en oproepe tot R44 per minuut.

Die digitale Standaard B-model het ’n verbeterde sein wat die kwaliteit van die satellietverbinding verhoog. Die Standaard C-model is kleiner, ligter en goedkoper. Hiermee kan slegs ruwe gegewens soos geskrewe teks gestuur en ontvang word en ’n rekenaar is noldig vir woordverwerking. Dit kos sowat R37 000 en weeg vyf kilogram.


previous page

[ Tuisblad ] [ Publikasies ] [ Inhoud / Index ] [ Publications ] [ Home Page ]

next page