Sentrum vir Onderrig en Leer
Universiteit Stellenbosch
e-Joernaal September 2007 - Volume 2(2)

Ontwikkeling van Onderwysstudente se Kreatiewe en Kritiese Denke met Behulp van Narratiewe en Metafore


Estelle Kruger
Departement Kurrikulumstudie,
Universiteit Stellenbosch
ekruger@sun.ac.za

OPSOMMING

In hierdie referaat sal ek aantoon hoe die narratiewe diskoers gepas kan wees binne die tersiêre taalonderrig- en navorsingspraktyk, spesifiek met die oog op die ontwikkeling van onderwysstudente se kreatiewe en kritiese denke. In ooreenstemming met die toenemende refleksiewe belangstelling by navorsers om ’n alternatiewe akademies-metodologiese stem binne ’n postmodernistiese epistemologie te vind, het ek gebruik gemaak van metafore om aan die narratiewe verslag van onderwysstudente in hul finale studiejaar ’n outentieke karakter te gee.

In my onderrigprogram is ervarings binne en buite die klaskamer geskep wat tot estetiese betekenisskepping in narratiewe konseptualisering van elke student se eie epistemologie aangaande taalonderrig gelei het. Die taalonderwysstudente kon as deel van hul professionele opleidingskurrikulum ’n begrip van die waarde van hul eie professionele groei en werk ontwikkel. Hulle is deur middel van ? kreatiewe skryfproses begelei om persoonlike ervaringsnarratiewe aan die hand van metafore in die vorm van outobiografiese of fiktiewe narratiewe te skryf.

Ek sal in die referaat verslag lewer van die onderrigprogram asook temas wat in die studente se narratiewe voorgekom het. Met hierdie navorsingsgetuienis kan ? bydrae gemaak word om in die konteks van navorsing oor taalonderrig motivering vir narratiewe verslaggewing te vind. Die ondersoek kan daartoe bydra dat die legitimiteit van onderwysers se ervarings deur middel van narratiewe ondersoeke akademiese geldigheid verkry en dat ’n nuwe begrip van betekeniskonstruksie in opvoedkundig-professionele kontekste geskep kan word.

Powerpointaanbieding

 

Back to Main Page Terug na artikelindeks

© Kopiereg, Sentrum vir Onderrig en Leer, Universiteit Stellenbosch, 2007