Sentrum vir Onderrig en Leer
Universiteit Stellenbosch
e-Joernaal September 2007- Volume 2(2)

Eerstejaarsakademie: Vroeë Assessering soos Gesien in die Programkonteks van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se Afdeling Arbeidsterapie


Betsie Vlok
Afdeling Arbeidsterapie van die Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch
edv@sun.ac.za

1. Konteks

Voornemende studente moet gekeur word om tot die kursus Arbeidsterapie toegelaat te word. Veertig studente word jaarliks tot die kursus toegelaat, waarvan ’n sekere persentasie studente vanuit voorheen benadeelde groepe moet wees. Studente wat reeds in ’n kursus was maar van beroepsrigting wil verander, maak ook deel van die groep uit.

Studente is op Stellenbosch vir die eerste jaar van die kursus, waartydens hulle die vakke Sielkunde, Sosiologie, Bedryfsielkunde, Spesiale Fisika en Biologie neem. Dit is bo en behalwe Arbeidsterapie, wat hulle op die Tygerberg-kampus neem. Studente moet die eerste jaar ten volle slaag om tot die tweede jaar van die kursus toegelaat te word.

2. Projekontwerp

’n Innovasieprojek is deur die klasvoogdosent vir Arbeidsterapie 1 geloods, in lyn met die Eerstejaarsakademie-projek van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), om die deurvoering en vordering van eerstejaars deur middel van ’n vroeëassesseringsinisiatief te monitor en te verseker. Die prestasie van die eerstejaars in die vakke Arbeidsterapie, Sielkunde, Sosiologie, Bedryfsielkunde en Biologie wat in die eerste semester gevolg word, is gemonitor. Studente wat 'n prestasiepunt van 50% of minder in toetsgeleenthede tot en met Maart behaal het, is as risikostudente geïdentifiseer. ’n Onderhoud is met hierdie groepie studente gevoer om die vroeëassesseringsproses te verduidelik, en ook dat dit ’n hulpinisiatief van die Universiteit is. Studente het die projek baie positief ervaar. Hulle moes elkeen neerskryf wat hul persepsie is van die rede waarom hul prestasie so swak is.

Die temas is ontleed en die probleem van swak prestasie is vervolgens ondersoek:

  • Vakke is geïdentifiseer waarin die studente swak gevaar het.
  • By vakke met ’n hoë voorkoms van swak prestasie is daar ondersoek ingestel of die studente oor die nodige voorkennis vir die kursus beskik het, bv. vir Biologie, of die student Wetenskap of Biologie op graad 12-vlak gehad het.
  • Vakaanbieding en assessering. Studente se terugvoering oor onderwerpe tydens klasvergaderings is aangeteken en die stel van vrae is gemonitor.
  • Vraestelle is vir betroubaarheid en geldigheid ondersoek en met inagneming van die vlakke van kennis volgens Bloom se taksonomie deur ’n voorgraadse programkomitee gemonitor .
  • Ondersoek is ingestel oor 'n tweejaar-prestasietermyn vir eerstejaars van watter toetsgeleentheid onderprestasie voorkom.

Die volgende is voorgestel:

  • aksieplanne ten opsigte van die voorbereiding vir vraagbeantwoording;
  • ’n seminaar om die eerste semester se arbeidsterapie-inhoud te konsolideer; en
  • ’n onderwerp-plus tutoriaal ter voorkoming van onderprestasie ná afloop van elke onderwerp.

Die moontlikheid word ondersoek om verdere konsolidasie van akademiese inligting elektronies in tutoriaalformaat te verkry, aangesien die studente op Stellenbosch is en die Afdeling Arbeidsterapie by Tygerberg is en tyd ’n probleem is.

Studente word hierdie jaar gemonitor en die projek sal aan die einde van die jaar geëvalueer word.

3. Motivering

Die Universiteit Stellenbosch se visie op onderrigterrein word in die Strategiese Raamwerk (Maart, 2000) soos volg opgesom: om 'n universiteit te wees wat deur onderrig van gehalte en voortdurende vernuwing van onderrig- en leerprogramme en die skepping van effektiewe leer- en studiegeleenthede gekenmerk word. Voortvloeiend uit die visie het die Senaat (Oktober, 2001) besluit om na 'n studentgesentreerde leer- en onderrigomgewing te beweeg en 'n Taakgroep vir Leer en Onderrig is in die lewe geroep. Een van die institusionele prioriteite van die taakgroep is die ondersteuning van 'n meer diverse groep studente met die oog daarop om die toegang vir, asook die behoud en deurvoering/vordering van, alle groepe te verhoog.

Voortspruitend is 'n inisiatief van SOL om vroeë assessering in 2007 in werking te stel sodat risiko- eerstejaarstudente vroeg in die akademiese jaar in die verskillende programme en modules geïdentifiseer kan word. Die eerstejaarstudente moet binne die eerste vier tot ses weke ná aanvang van die akademiese jaar toetse aflê ten einde akademiese vordering te bepaal. Studente met 'n prestasie van onder 50% word as risikostudente geïdentifiseer. Aksieplanne moet dan in werking gestel word om met optimale ondersteuning en leergeleenthede die deurvloei van die student te verseker.

Die Afdeling Arbeidsterapie het hierdie inisiatief op ons program van toepassing gemaak omdat die akademiese vordering en welstand van die studente vir ons belangrik is en ons doeltreffende, optimale onderrig wil bevorder.

4. Lesse geleer

Studente is baie positief omdat die Universiteit hulle wil bystaan. Hulle kan hul eie probleme goed identifiseer, maar toon geen inisiatief om self aksieplanne in te stel om hul probleme te voorkom nie.

Hulle noem die volgende probleme wat hulle ervaar:

  • Studiemetodes: Party vind die hoeveelheid studiemateriaal 'n probleem, ander sukkel om die inhoud in konteks te plaas.
  • Aanpassing is moeilik ná 'n driejaar-rusperiode.
  • Nuweling-eerstejaarstudente sukkel om aan te pas.
  • Hulle verstaan nie die vrae nie, veral veelvuldigekeusevrae.
  • Taal (Engels en Afrikaans) is 'n struikelblok. Een student noem dat dit verwarrend is wanneer 'n PowerPoint-aanbieding in Afrikaans en die handboek in Engels is.
  • Studielokale is te raserig.
  • Die feit dat ’n student laat by die kursus aangesluit het, benadeel prestasie, omdat baie werk al afgehandel is en ingehaal moes word.
  • Streshantering is 'n probleem.
  • Meer energie moet insit.

Dit is dus belangrik vir eerstejaars dat dosente saam met hulle aksieplanne formuleer en instel en verseker dat hulle dit volg. Buiten akademiese gereedheid is dit ook belangrik om die sosio-emosionele intelligensie van eerstejaars met die opstel van sodanige aksieplanne in ag te neem. Studente moet die lewensvaardigheid aanleer om verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem.

5. Verwysings

SOL het 'n webblad ontwikkel waarop die studente se prestasieprofiel volgens program en module in Maart en ook ná die Junie-toetse aangedui word. Dit bied ’n oorsig van studente se prestasie in vergelyking met al die ander studente wat daardie vak neem. Risikostudente kan so geïdentifiseer word.

Huxman, M. The STAR (Student Transition and Retention) Project. Extended induction tutorials for “at-risk” students [Intyds]. Beskikbaar:
http://www.napier.ac.uk/qes/studenteretentionproject/SRPhomeasp. [2007, 15 Mei].

Whittle, S, Whelan, B & Murdoch-Eaton, DG. 2007. DREEM and beyond: studies of the educational environment as a means for its enhancement [Intyds]. Beskikbaar:
http://www.educationforhealth.net/.

 

Powerpointaanbieding

 

Back to Main Page Terug na artikelindeks

© Kopiereg, Sentrum vir Onderrig en Leer, Universiteit Stellenbosch, 2007