Welkom by ons department! Vind hieronder belangrike vrae oor sosiologie en sosiale antropologie as vakrigtings. Volg die personeel skakel indien jy meer wil uitvind oor die mense van die departement of keer terug na die tuisblad.

Sosiologie

  • Wat is sosiologie?
  • Sosiologiese verbeeldingrykheid
  • Navorsingsvaardighede
  • Wat kan ek met sosiologie as 'n universiteitsvak doen?
  • Die begronding van sosiologie as 'n akademiese disipline
  • Sosiologie by die Universiteit van Stellenbosch

Sosiale antropologie

  • Wat is sosiale antropologie?
  • Hoe bestudeer 'n sosiale antropoloog mense?
  • Sosiale antropologie by die Universiteit van Stellenbosch
  • Toepaslikheid van sosiale antropologie en beroepsmoontlikhede

 

Wat is sosiologie?

Sosiologie gaan oor die studie van die menslike sosiale lewe – hoe ons met andere in verband staan en in hoe ons met mekaar en ons omgewing in sosiale interaksie verkeer. Sommige sosioloë fokus op die interaksie tussen mense en die alledaagse lewe; ander bestudeer die sosiale verhoudings in spesifieke sosiale instellings soos die gesin of religie of die werksplek, terwyl ander weer fokus op sosiale bewegings, of globale verskynsels soos internasionale arbeidsmarke of oorlog of die impak van massamedia op die samelewing.

Sosiologiese verbeeldingrykheid

Alle sosioloë stel belang hoe mense met mekaar in interaksie verkeer, en om te verduidelik hoe hierdie interaksie 'n bepaalde vorm aanneem en verander oor tyd. Wanneer hierdie kwessies ondersoek word, word antwoorde gesoek wat verder gaan as alledaagse verklarings soos dat oorsake geleë is in die 'menslike natuur' of 'dat dit nog altyd so was'. Sosioloë werk met wat die Amerikaanse sosioloog C Wright Mills die ‘sosiologiese verbeelding’ genoem het . Dit verwys na die vermoë om nuuskierig te wees oor hoekom spesifieke samelewings of segmente van spesifieke samelewings funksioneer soos wat hul doen - deur kritiese vrae te stel oor sosiale ordening en om ontvanklik te wees vir verskillende maniere om na die wêreld te kyk.

Die volgende is enkele voorbeelde van vrae wat sosioloë ondersoek:

  • Word mans en vroue gebore om verskillende rolle in die samelewing te speel? Hoeveel invloed het die samelewing op ons verwagtinge van wat dit beteken om 'n man of 'n vrou te wees?
  • Wat is die impak van die Internet op die manier hoe mense met mekaar kommunikeer en hoe affekteer dit verhoudings in die gesin, die gemeenskap en die wêreld?
  • Hoekom is misdaadsyfers in Suid-Afrika so hoog, en wat kan ons daaromtrent doen?
  • Hoe is die aard van werk besig om te verander?
  • Hoe het ons sienings oor die natuur en omgewing oor tyd verander?
  • Hoe hou mens rekenskap van oorlog en konflik in die samelewing? Wat is nodig om vrede in die wêreld te bevorder?
  • Hoekom is daar ongelykheid tussen mense? Het ongelykheid altyd bestaan en in alle samelewings?
  • Wat word met 'ontwikkeling' bedoel? Is dit altyd 'n goeie ding?
  • Hoekom is suidelike Afrika die episentrum van MIV/VIGS?
  • Hoe belangrik is taal in die vorming van 'n mense se kulturele identiteit?

Navorsingsvaardighede

Sosiologie vra nie alleen vrae oor die samelewing nie. Dit bied ook opleiding oor hoe sulke vrae beantwoord kan word deur die kombinasie van teoretiese denke en toegepaste navorsing. Sosiologiese navorsing neem baie vorme aan, maar behels tipies veldwerk met die groep of gemeenskap wat bestudeer word.

Die disipline het oor die jare 'n gesofistikeerde stel beginsels en gebruike ontwikkel wat verskillende soorte navorsingsprojekte rig en verskillende soorte navorsingsvrae beantwoord. Metodes wissel van groot opnames van groot getalle mense vir statistiese ontleding, tot indiepte onderhoude met individue ten einde hul ervarings en persepsies te kan verstaan, tot 'deelnemde waarneming' waar die navorser tyd spandeer met die groep wat bestudeer word, en deelneem aan en waarnemings doen van hul daaglikse aktiwiteite.

Die opleiding wat sosiologie vir voorgraadse en nagraadse studente in navorsingsmetodologie bied, is 'n baie waardevolle vaardigheid wat toepaslik in verskillende werksituasies is.

Wat kan ek met sosiologie as 'n universiteitsvak doen?

'n Voorgraadse sosiale wetenskappe graad met sosiologie as hoofvak baan die weg vir verskeie loopbaangeleenthede, insluitende:

  • die ontwikkelingsveld, waar gewerk word met NROs, die konsultasiebedryf en staatsdepartemente oor verskillende sektore heen (kindersorg, gesondheid, grondsake, behuising, arbeid, onderwys, kultuur, ens)
  • die verskillende sektore van die regering, insluitende die plaaslike, provinsiale en nasionale vlakke
  • sosiale navorsing (marknavorsing, beleidsnavorsing, sosiale houdings, ens)
  • journalistiek
  • maatskaplike werk
  • onderwys
  • politiek
  • die ontwikkeling van sosiale beleid.

'n Nagraadse kwalifikasie bekwaam 'n persoon vir meer senior posisies in hierdie velde. Dit bied ook 'n moontlikheid vir 'n akademiese loopbaan by universiteite of navorsingsinstellings, of in senior akademiese bestuur. Dit is moontlik om hier 'n bedrae te lewer tot die produksie van sosiologiese kennis oor die samelewing in alle velde van sosiale ondersoek. Hierdie departement doen byvoorbeeld navorsing oor gemeenskapsontwikkeling, sosiale beleid, gender, die sosiale dimensies van MIV/VIGS, die wynbedryf, swart ekonomiese bemagtiging, die militêre instelling, grondhervorming en religie.

Die begronding van sosiologie as 'n akademiese disipline

Daar was nog altyd mense wat kritiese vrae gestel het oor die manier waarvolgens die samelewing funksioneer, maar sosiologie het as akademiese disipline in Europa in die laat negentiende eeu ontwikkel in reaksie tot die grootskaalse sosiale veranderinge in die sosiale lewe as gevolg van ekonomiese ontwikkeling (die industriële revolusie, snelle verstedeliking, die groei van globale marke) sowel as politieke transformasie (die val van absolute monargieë, revolusie, Europese kolonialisme en die opkoms van demokrasie).

Die hoof-sosiologiese-denkers soos Karl Marx, Emile Durkheim en Max Weber, het geworstel met hoe om oor hierdie groot vraagstukke te dink en hoe om dit te verklaar. Elkeen van hierdie denkers was verantwoordelik vir onderskeibare teoretiese tradisies in sosiologie. Gedurende die verloop van die twintigste eeu het denkers van buite Europa die omvang van sosiologiese ondersoek verder uitgebrei, insluitende deur kritiese refleksie oor die verhouding tussen Europa en ander gedeeltes van die wêreld en die aard van moderniteit.

Sosiologie by die Universiteit van Stellenbosch

Die meeste sosiologie departmente by universiteite in Suid-Afrika het ontwikkel uit saamgestelde sosiale wetenskappe departemente wat sosiologie met maatskaplike werk en/of sielkunde gekombineer het. Sosiologie is in Stellenbosch in 1932 ingestel, oorspronklik as 'n gemeenskaplike department met Maatskaplike werk. Die twee disiplines is in 1965 geskei en Prof SP Cilliers was die eerste voorsitter van die nuwe Departement van Sosiologie.

Wat is sosiale antropologie?

Sosiale antropologie is die studie van die mensdom in terme van wie ons is en wat ons sosiale en kulturele bestaan beteken. Beide die diversiteit tussen mense en die gemeenskaplike response tot die uitdagings van menswees is in 'n aaneenlopende fokus. Dit beteken dat wat ons as algemeen beskou en dit wat beskou word as buitengewoon, omgeruil word: sosiale antropologie maak die onbekende bekend en die bekende onbekend deur ondersoek in te stel na die redes vir gedrag en gedeelde betekenisse van alle mense, insluitende onsself. Sosiale antropologie bou op die natuurlike nuuskierigheid wat ons almal het oor wat dit beteken om menslik te wees. Dit poog om die stereotipes oor ander mense wat vir ons vreemd voorkom te oorkom, deur die studie van die wyses waarop hulle die lewe vanuit hul eie perspektief ervaar en beskou. Sosiale antropologie help ons om ons etnosentriese idees te ondermyn deur die vergelyking en begryp van verskillende leefstyle as betekenisvol, maar as uiteenlopende reaksies tot gemeenskaplike menslike probleme wat almal ons gerespekteerde betrokkenheid regverdig. Ons etnosentriese idees word sodoende uitgedaag wat ons in staat stel om die insigte wat sosiale antropologie bied te gebruik om 'n begrip van menslike lewe op 'n meer algemene vlak te ontwikkel. In hierdie studie van mense is gedeelde betekenisse (kultuur), wat oorgedra word deur leer en kommunikasie, van besondere belang en dit sluit idees in oor hoe 'n lewe gemaak word, die bonatuurlike, die liggaam (soos seksualiteit of genetiese verskille tussen bevolkings) en die gedrag wat met hierdie patrone van betekenis in verband gebring kan word. 'n Ander belangrike perspektief wat sosiale antropologie bied, is die studie van die sosiale lewe van mense (die samelewing) en die verskillende vorme van netwerke, gesinne, organisasies, nasies ens. In die studie van mense word ons toenemend bewus van die kompleksiteit en kreatiwiteit van die menslike lewe en die nutteloosheid om 'n duidelike onderskeid te tref tussen 'ons' en 'hulle'.

Hoe bestudeer 'n sosiale antropoloog mense?

'n Literatuurstudie is altyd die beginpunt vir nuwe navorsing wat 'n persoon help om 'n oorsig te kry van die huidige stand van begrip en die beskikbare verklarende raamwerke vir die kwessies wat bestudeer moet word. Die sosiale antropoloog maak dan gebruik van eie ervaring en sienings om die lewens van mense tydens 'n periode van intensiewe veldwerk te verstaan. Dit beteken dat mens (as sosiale antropoloog) daartoe instaat is om met ander persone en sosiale prosesse in aanraking te kom op die basis van eie gewoontes, idees, sosiale vaardighede, geheue en gevoelens, terwyl spesifieke navorsingsvrae terselftertyd aangespreek word. Die gebruikmaking van jou eie selfbegrip as 'n hulpmiddel vir die bestudering van ander mense in die veld, is sentraal tot die primêre navorsingsmetode van sosiale antropologie, naamlik deelnemende navorsing. 'n Verdieping oor 'n relatiewe lang tydsperiode in die sosiale en kulturele prosesse wat bestudeer word, stel 'n persoon in staat om die wêreld vanuit die perspektief van die mense waartussen navorsing gedoen word, te verstaan. Sosiale antropoloë doen navorsing in baie verskillende ruimtes: stede, landelike areas, besigheids- en burgerlike samelewing organisasies, ontwikkelingsprojekte, globale korporatiewe instellings, musiekfeeste, klinieke en hospitale, sportbyeenkomste, ens.

Tydens veldwerk doen navorsers sistematiese waarnemeings ten einde etnografiese tekste te skryf waarin die sosiale antropoloog 'n 'ryk beskrywing' (volledige begrip van verskeie posisies en invalshoeke) gee en die kwessies wat bestudeer is verduidelik in terme van hul relevante kontekste (bv. historiese konteks en politieke ekonomie).

Sosiale antropologie by die Universiteit van Stellenbosch

Dr Werner Eiselen was in 1926 in die eerste permanente posisie in 'Bantologie' aangestel. Hy en sy latere kollegas het die benadering tot die vak wat later as Volkekunde bekend gestaan het ontwikkel wat Afrikaner nasionalisme sowel as die beleidsbenaderings van apartheid, aktief ondersteun het. Dr. Eiselen het later 'n senior staatsamptenaar van Aparte Ontwikkelingsbeleid (soos na apartheid verwys is) geword. Hy is bevorder tot die Sekretaris van Bantoesake onder Hendrik Verwoerd, wat ook 'n akademikus in die sosiale wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch was. Die ideologiese en intellektuele wig tussen Afrikaans- en Engelssprekende strominge in antropologie in Suid-Afrika het die internasionele erkenning van die vak by Stellenbosch geskaad, alhoewel sommige dosente hul weg binne die internasionale akademiese wêreld gebaan het, bv. Brian du Toit, wat die voorsitter van antropologie aan Florida State University in die VSA geword het.

Die departement is in die middel-90s gesluit gedurende 'n herorganisasie en afskaling van die fakulteit. Die besluit was gelukkig gemaak om die vak as Sosiale Antropologie te behou en dit te huisves binne Sosiologie in een gekombineerde departement. Sedert 1997 is programme in sosiale antropologie ingestel op nagraadse vlak, terwyl voorgraadse modules vir sosiale antropologie as 'n hoof BA vak stelselmatig ingestel is (die derdejaar hoofvak is in 2007 ingestel). Die navorsingsfokus van sosiale antropoloë in die departement is veral die antropologie van gesondheid, identiteitspolitiek, die sosiale impak van natuurbewaring en die antropologie van ontwikkeling. Suid-Afrikaanse sosiale antropoloë bestudeer tipies hul eie samelewing as 'inwoner antropoloë' en is dus dikwels betrokke by navorsing wat beleidsimplikasies het. Behalwe vir 'n fokus op navorsingsgebaseerde onderrig en publikasies het personeellede sterk internasionale netwerke ontwikkel tot voordeel van die werk van studente en dosente.

Toepaslikheid van sosiale antropologie en beroepsgeleenthede

Baie studente word bewus van sosiale antropologie vir die eerste keer op universiteit en hul belangstelling word dikwels geprikkel weens die romantiese en eksotiese aantrekking van die vak. Hul besluit egter dikwels om met die vak voort te gaan weens die waarde wat dit toevoeg tot begrip van ons komplekse sosiale wêreld en 'n persoon se eie kulturele agtergrond en identiteit. Vir baie studente is die waarde van sosiale antropologie geleë in die breë inleiding tot die sosiale wetenskappe en vir die bruikbaarheid in samehang met die ander humanistiese hoofvakke. Sommige gaan ook voort om die vak op nagraadse vlak te bestudeer weens aspirasies om 'n beroep in navorsing en onderrig na te volg, dikwels ten einde die baie sosiale en kulturele uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, aan te spreek.

Suid-Afrika het 'n hele paar honderde mense met nagraadse kwalifikasies in sosiale antropologie en omtrent 100 akademiese en navorsingsposte vir die vak. Die loopbane van diegene wat buite die akademie werk nadat hul 'n Magistergraad in Sosiale Antropologie ontvang het, wissel baie: sommige werk vir hulself as konsultante in 'n verskeidenheid van velde insluitende landelike en stedelike ontwikkeling, openbare gesondheid, die sosiale en kulturele impak van infrastrukturele verandering en selfs marknavorsing. Ander werk in die areas van menslike hulpbronne, bewaring, toerisme, joernalistiek, kommunikasie of die nuwe media, waar hul werk binne die staat, NROs, internasionale agentskappe of die besigheidsektor. Daar is baie komplekse verhoudings en interaksies in 'n transformerende land soos Suid-Afrika met 'n diverse bevolking en groot ongelykhede waarvoor die insigte van 'n sosiale antropoloog in aanvraag is. 'n Doktorsgraad is die finale kwalifikasie wat 'n sosiale antropoloog kan verwerf vir 'n sterk professionele opleiding in die veld. Vir meer inligting oor Sosiale Antropologie en wat jy kan doen met opleiding in hierdie disipline, besoek gerus die webwerwe van die American Anthropology Association (AAA) of die Association of Anthropology in Southern Africa (ASA).