Die Departement van Sosiologie en Sosiale Antropologie bied 'n verskeidenheid van voorgraadse modules en nagraadse programme aan wat daarop gerig is om 'n sosiologies- en sosiaal antropologiese relevante respons te lewer op die uitdagings wat deur hedendaagse samelewings gestel word. Om hierdie rede is dit ons missie om onderrigprogramme sterk te vestig in die werklikheidskonteks ekstern tot die universiteitslewe.

Ten einde hierdie ideale te verwesenlik word die departement se hulpbronne - menslik, infrastruktureel en finansiëel - gerig op uitreiking na die samelewing, omliggende gemeenskappe en instellings. Dit word sterk gereflekteer in ons onderrig, navorsing en uitreikaktiwiteite. Hierdie benadering het tot gevolg dat die departement die kapasiteit gevestig het om konsultasiedienste in die velde van transformasie en ontwikkeling te lewer. Die departement het ook met herstrukturering en spesifiek die integrering van sosiale antropologie 'n sterker interdisiplinêre akademiese rol in beide voorgraadse en nagraadse onderrig ingeneem.

Hierdie webbladsye reflekteer spesifiek die nuwe en hernude voorgraadse modules en nagraadse programme wat die departement aanbied. In aansluiting met die Universiteit se missie spreek hierdie programme doelwitte aan in lyn met die nasionale opvoedkundige beleid om die huidige behoeftes van Suid-Afrika en omliggende bevolkings aan te spreek. Altesaam 18 voorgraadse modules as deel van die Fakulteit se Voorgraadse Programme en 13 verskillende nagraadse programme (waarvan drie interdepartementele programme is) wat tot spesifieke kwalifikasies lei word aangebied. Hierdie verskeidenheid van programme verseker dat daar voorsiening gemaak word vir die meeste behoeftes van voornemende studente:

  • Disiplinêre sowel as interdisiplinêre studie
  • Kursuswerk, selfstudie en navorsingsprogramme is beskikbaar, dikwels gekombineer
  • Voorsiening word gemaak vir afstandsonderrig en residensiële studie
  • Kwalifikasies wissel van verskeie BA opsies met sosiologie en sosiale antropologie as keusevakke en op nagraadse vlak van 'n Honneurs tot M Phil/Magister tot D Phil
  • In sekere nagraadse programme word voorsiening onder bepaalde voorwaardes gemaak vir uitgangkwalifikasies

Die departement is goed toegerus in terme van biblioteekvoorsiening, rekenaarfasiliteite en lesinglokale. Ons personeellede is hoogs geskool en ervare in hul onderskeie spesialiteitsareas. Ons stelsel van besoekende dosente verseker ook dat studente gereeld blootgestel word aan van die voorste kenners in die internasionale akademiese arena.

U word uitgenooi om ons te kontak vir meer inligting en om Stellenbosch as u toekomskampus te oorweeg.