INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Fluit-fluit...is die storie uit vir boeke en boekresensies?

Eendag lank, lank gelede, voor die koms van televisie en die internet, het feitlik almal gelees. Baie spasie is in publikasies aan boekresensies gewy. Vandag, in die tegnologies-gevorderde wêreld, wonder ’n mens of die storie nie (fluit-fluit) uit is vir boeke en boekresensies nie. Carolyn Meads het resensente, boekeblad-redakteurs en uitgewers gevra wat húlle dink.

Het jy al die reuk van ’n nuwe boek geruik? Was jy al deur ’n omslag betower? Het jy al oor die gladde bladsye gestreel? Of het jy al heeltemal verdiep geraak in ’n storie terwyl jy opgekrul onder die kombers gelê het? Het jy met die boek vasgedruk teen jou lyf aan die slaap geraak? Dié ervaring is die rede waarom resensente, boekeblad-redakteurs en uitgewers sê boeke sal nooit verdwyn nie.

Tegnologiese ontwikkelings bied wel uitdagings vir boeke. Ons word deur televisie en internet met klank, beweging en visuele aanbieding gebombardeer. Dit blyk dat meer kykers as lesers gekweek word.

Volgens Annari van der Merwe, direkteur van Umuzi-uitgewers, is daar egter bewys dat mense wat wél lees, nou meer lees as ooit tevore. In ’n onderhoud met Boekenuus, sê sy “die uitdaging is om ’n leeskultuur onder die opkomende geslag te vestig.” In Suid-Afrika is dit moeilik omdat daar benewens die mededinging met al die ander media, baie jongmense is wat slegs by die skool met boeke kennis maak. Die idee dat jy vir suiwer plesier kan lees, word selde by hulle tuisgebring. Dit is vir haar ’n hartseer toedrag van sake, want “baie jongmense besef nie jy kan jou uit oningeligtheid en agtergeblewenheid lees en jou situasie verbeter nie”.

Rachelle Greeff, boekeblad-redakteur van Rapport, het ook in ’n onderhoud met Boekenuus gesê sy wens sy kan ’n hele bladsy aan jeugboeke wy. “Só ontwikkel ’n mens die mark en vang lesers vir die res van hul lewens.” Ongelukkig, sê sy, word al hoe minder ruimte aan boekresensies in Rapport en ander publikasies toegestaan.

Alexandra Dodd skryf in die Rhodes Journalism Review van September 2008 boekeblaaie word wêreldwyd verklein.

Mariana Loots, subredakteur en resensent meen dit is goed as resensies bondiger geskryf word, want die internetgenerasie is verknog aan kitsbevrediging.

Gerrit Brand, boekeblad-redakteur van Die Burger, het in ’n paneelbespreking oor resensies by vanjaar se Versindaba wat in September op Stellenbosch gehou is, gesê die stelsel waar Die Burger ’n aantal sterre aan ’n boek toeken, is deels ook om aan die behoefte van kitsbevrediging te voldoen. “’n Persoon wat nie tyd het om die hele resensie te lees nie, kan vinnig aan die sterre sien wat die resensent daarvan gedink het,” sê hy. Greeff vind dié stelsel “’n bietjie simpel”.

Ten spyte van die uitdaging wat tegnologiese ontwikkelings aan boeke en resensies bied, is rol-
spelers in dié bedryf positief. Hulle probeer juis tegnologie tot hul voordeel gebruik.

Binnekort sal jy boeke in digitale vorm op mobiele elektroniese toestelle (sogenaamde “readers”) kan lees. Sogenaamde e-boeke (elektroniese boeke) is reeds op die internet beskikbaar, maar dit is nie altyd gemaklik om voor ’n statiese rekenaar te sit en lees nie. Daarom dus die draagbare “readers”. ’n Voorbeeld hiervan is die Sony Reader. Volgens Sony se pers-webblad is dit ’n draagbare, draadlose toestel, so groot soos ’n slapbandroman – net dunner en ligter. Volgens die webblad het die reader ’n skerm van “nuwe-generasie elektroniese-papier ” en dit lees glo maklik, selfs in helder lig. Die toestel kan altesaam 160 e-boeke stoor.

Johann van Tonder, bestuurder van digitale strategie by Via Afrika, sê CNA gaan waarskynlik teen volgende jaar Sony Readers invoer. Media24 gaan inhoud verskaf wat op die readers gelees kan word.

David Schröder, redigering- en produksiekontroleerder van Penguin-uitgewers, meen e-boeke sal veral ’n groot impak op akademiese instansies hê. Biblioteke sal nie ’n fisieke kopie van ’n boek hoef aan te hou as hulle toegang tot ’n digitale weergawe het nie.

Volgens hom sal dit nog ongeveer vyf jaar neem voor e-boeke deel van die algemene handel word. “Die tradisionele boekhandel sal relatief veilig wees, totdat readers so algemeen soos iPods is, of as ’n standaardfunksie op selfone uitgebring word,” sê hy. Penguin beoog om binne ’n jaar hul eerste e-boek te publiseer.

Eloise Wessels, besturende direkteur van NB-uitgewers, sê per e-pos aan SMF: “Dit begin al hoe meer lyk of ons op die ou end alles met ons selfone gaan doen: boodskappe stuur, foto’s neem, TV kyk, banksake doen, alarms aan en afskakel en ook boeke lees.”

Wessels, Schröder en Van der Merwe meen daar sal steeds ’n mark vir die fisieke produk ook wees. “Wie wil nou op die strand sit met ’n masjien?” vra Van der Merwe.

Buitendien is tegnologie in Suid-Afrika volgens Wesley Thompson, junior uitgewer vir e-opvoeding by Macmillan uitgewers, nog nie op standaard vir byvoorbeeld die vinnige aflaai van boeke van die internet nie. Selfs al was dit, het die meerderheid mense nie toegang tot dié tegnologie nie.

“Boeke het nie elektrisiteit nodig nie, kan enige tyd enige plek heen geneem word en meer bekostigbaar as tegnologie. Vir hierdie redes, en meer, is daar beslis ’n toekoms vir boeke,” sê hy.

Indien e-boeke wel in groot getalle toeneem, sal druk-op-aanvraag volgens Schröder die behoefte aan ’n fisieke produk by baie mense kan bevredig.

Volgens Techweb se Techencyclopedia is druk-op-aanvraag ’n nuwe gerekenariseerde drukproses waar kopieë van ’n boek net gedruk word wanneer ’n bestelling daarvoor ontvang is. Baie klein opgawes kan gedruk word. Verskeie webtuistes vir druk-op-aanvraag bestaan reeds op die internet. Hulle bied gewoonlik gratis sagteware aan waarmee ’n voornemende outeur ’n boek kan ontwerp. Dit kan in minder as 20 minute gedoen word. Die maatskappy druk dan teen ’n bepaalde prys die aantal kopieë wat die outeur wil hê. Tradisionele uitge­werye begin ook druk-op-aanvraag oorweeg.

Volgens Wessels word boeke wat uit druk is en wat nie genoeg verkoop om voorraadhouding te regverdig nie, só op aanvraag beskikbaar gestel. Sy sê dié stelsel moet verfyn word en is nog te duur. Uiteindelik kan dit, volgens haar, ’n positiewe invloed op die bedryf hê. Uitge­werye kan minder voorraad aanhou en loop nie die risiko dat ’n boek nie sal verkoop nie.

Van der Merwe meen druk-op-aanvraag sal net op klein aanvraag werk en daarom sal tradisionele drukmetodes steeds vir boeke gebruik word wat in groot aanvraag is.

Brand gebruik ook deesdae tegnologie tot sy voordeel. Die Burger het onlangs, weens onder meer die invloed van tendense by aanlyn-koerante, herontwerp. Die klem val nou op kort brokkies inligting en visuele aanbieding. Ook die boekresensies moet, soos in Rapport, korter geskryf word. Brand het egter ’n blog genaamd Boekeblok op Die Burger se webtuiste geskep waar langer en meer resensies geplaas kan word.

Tydens die Versindaba-gesprek het Brand gesê: “Ek het reaksies op resensies ontvang wat verdien om geplaas te word, maar as ek dít sou doen, sou minder boeke geresenseer word. Op die blog kan ek nou alle verdienstelike resensies en kommentaar plaas.”

Die boekeredakteur van Sunday Times, Tymon Smith, het ’n soortgelyke blog op The Times se interaktiewe webwerf.

“Ek gebruik potgooi-onderhoude met skrywers wat skakel met die geskrewe weergawe in die koerant. Ek blog ook oor allerhande sake rakende boeke,” sê hy.

Die beeld- en klankgrepe op hierdie blogs stimuleer hul lesers se oë en ore.
Dodd sê resensente moet nie neerkyk op blogs nie. “Daar is iets ontstellend elitisties en self-saboterend aan hierdie houding,” sê sy.

Loots meen resensies moet “’n nuwe baadjie aantrek” en tred hou met die tegnologiese
ontwikkelinge, maar dat die gedrukte media altyd ’n plek sal hê. “Myns insiens sal die mensdom sigself nooit die luuksheid van papier in die hand ontsê nie,” sê sy.

Die les in die verhaal? Dit lyk gelukkig asof dit nog lank nie fluit-fluit, die storie is uit vir boeke en boekresensies is nie. Inderdaad, eerder dat hulle lank en gelukkig met tegnologie sal saamleef.