INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

Kort aan kortverhale?

Die veranderinge van die laaste halfeeu, wat veral deur tegnologiese ontwikkeling verhaas is, het ook die Afrikaanse media nie onaangeraak gelaat nie. Ook jóú behoeftes as leser verskil moontlik van dié van ’n dekade gelede. Die pas is vinniger en as jy te besig is om ’n roman van voor tot agter deur te lees, of jou aandagspan dit eenvoudig nie toelaat nie, is jy waarskynlik ’n liefhebber van kortverhale. En stem jy dalk volmondig met ’n gerekende pen uit kortverhaalgeledere saam dat hedendaagse tydskrifte dié genre begin afskeep het. Maar wat sê kortverhaalkeurders in die Afrikaanse media oor die saak? Ingé Lamprecht het gaan vasstel.

Vrydag, en jy het pas by die huis aangekom ná ’n moordende week op kantoor. Jy plof op die rusbank met jou gunsteling Afrikaanse tydskrif, skeur gulsig die plastiek af, asem vir ’n behaaglike oomblik die nuutheid van die papier in en blaai dan vinnig tot by jou gunsteling gedeelte – die kortverhaalafdeling. Net sodat jy teleurgesteld na die enigste twee bladsye met kortverhale in die tydskrif kan staar.

As die toneeltjie bekend klink, stem jy dalk saam met die bekroonde Afrikaanse kortverhaalskrywer, Hennie Aucamp, wat onlangs in die Saterdagbylae van Die Burger, BY, gewonder het waar die Afrikaanse kortverhaal heen is.

Aucamp skryf onder meer: “Die natuurlike tuiste vir verhale is tydskrifte, maar tydskrifte het met die jare promosietydskrifte geword wat vere voel vir die geesteslewe van ’n groep.” En hy vervolg: “Waar, wil ek luid vra, is ‘die sneeu van voorverlede jaar’? Waar is Die Huisgenoot wat Jan van Melle, Leipoldt, Elise Muller, J.F.W. Grosskopf vir ons gebring het? Waar die Sarie Marais wat ons aan Nadine Gordimer voorgestel het in ’n puik vertaling deur Fred le Roux?”

Is sy retoriese vraag geldig? Wat sê dié tydskrifte oor die stand van die Afrikaanse kortverhaal?
Volgens Cecilia van Zyl, kortverhaalkeurder van Huisgenoot, is die grootste rede vir die plaas van minder kortverhale die gebrek aan ruimte in die tydskrif. Corlia Fourie van rooi rose stem saam – sy meen dat hoër koste die plaas van meer verhale belemmer.

“Omdat drukkoste sowel as papier die afgelope tien jaar so hoog geword het, is daar minder plek vir verhale. Daarom gee ek dikwels voorkeur aan korter verhale – hoewel ons ook ‘langer’ verhale aanvaar. ’n Paar lesers het wel al daaroor gekla,” sê Fourie.

Sy bied neigings in die oorsese tydskrifmark as ’n moontlike rede vir dié tendens aan.
“Oorsese tydskrifte plaas al jare lank min of geen verhale nie. Dalk is die hedendaagse mens meer visueel ingestel?”

Nuwe voorkeure

André le Roux, eindredakteur en kortverhaalkeurder van SARIE, voeg by dat lesers se voorkeure oor die jare verander het.

Ruimte in tydskrifte kos al hoe meer geld, sê hy. “As ons kon, sou ons tien verhale in elke uitgawe wou publiseer. Dit is egter nie prakties moontlik nie. En hoewel daar altyd ’n goeie groep lesers sal wees wat kortverhale in enige tydskrif verkies, is kortverhale ongelukkig nie goeie verkopers nie.”

Volgens Le Roux suig kortverhaalbundels in die boekbedryf nes poësie aan die agterspeen wanneer dit met romans moet kompeteer.

Hoewel Le Roux erken dat lesers se behoeftes met die jare verander het, meen hy nie lesers se behoefte aan spesifiek kortverhale lyk veel anders as tien jaar gelede nie.

Die lesers wat graag kortverhale lees (tydskrifverhale), sal dit bly lees en sal dit steeds in ’n tydskrif soos SARIE verwag, sê hy. “Ek dink nie ons ‘wen’ juis lesers vir die Afrikaanse kortverhaal nie. Dis bloot ’n diens aan die leser.”

’n Nuwe neiging by SARIE is om kortverhale van bekende persoonlikhede, soos sepie-akteurs, te gebruik. Volgens Le Roux is dit ’n vorm van bemarking.

“Ons probeer SARIE verkoop. Bekendes verkoop eenvoudig beter as onbekendes, en die kopers bepaal die inhoud van die tydskrif,” meen Le Roux.

Hy voeg egter by dat SARIE probeer om ’n gebalanseerde mengsel van gevestigde en onbekende skrywers ’n geleentheid tot publikasie te gee.

Van Zyl reken Huisgenoot-lesers se voorkeure het “definitief” verander “soos wat hul smaak in alles, van modes tot kos verander het, en steeds verander”. Huisgenoot probeer om die tydskrifinhoud “kontemporêr” te hou om só die lesers se behoeftes te bevredig, sê sy.

Prof Chris van der Merwe van die Afrikaanse Afdeling by die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad, benadruk dat tydskrifte wel ’n belangrike rol in die uitbou van die kortverhaalgenre te speel het. Van der Merwe sê aan SMF die belangstelling wat E.K.M. Dido se reeks “Emma” in Die Burger gewek het, is “’n teken dat daar wel ’n plek vir literêre skrywers in die media is”.

“Die ideaal is dat dit ’n skrywer sal wees wat die fynproewer-leser sowel as die leek bevredig – skrywers soos Dido, en vroeër Elise Muller, M.E.R. of Boerneef – ek dink ook aan Jan Spies,” sê Van der Merwe.
Van Zyl sê ’n gesinstydskrif soos Huisgenoot bied nuwe skrywers die geleentheid om hul verhale te publiseer en die vertroue om moontlik hul hand aan ander genres soos romans te waag.

Volgens Fourie is haar ervaring en beleid by rooi rose om goeie, verstaanbare kortverhale te publiseer wat “literêre en ontspanningsverhale insluit”.

“Ek probeer om so ’n groot verskeidenheid as moontlik goeie verhale te plaas – ter wille van ons lesers, sowel as Afrikaanse skrywers. Ons aanvaar verhale van gevestigde skrywers sowel as beginners. Soms het beginners ’n voordeel omdat hul stories ‘vars’ is,” meen Fourie.

Die meerderheid verhale wat vir publikasie ontvang word, is egter te swak om uiteindelik in die tydskrifte opgeneem te word. SARIE publiseer meestal verhale wat “op aanvraag” geskryf is, terwyl Huisgenoot en rooi rose ongeveer 40 bydraes per maand uit verskillende oorde ontvang.

Volgens Van Zyl is ongeveer 10% van hierdie bydraes publiseerbaar.

Nuwe lewe

Ook BY, Die Burger se bylae op Saterdae, het ’n inisiatief van stapel gestuur om die kortverhaal te laat herleef. Willemien Brümmer, self ’n kortverhaalskrywer, staan aan die stuur van sake. Haar kortverhaalbundel, Die dag toe ek my hare losgemaak het, het in Julie vanjaar by Human & Rousseau verskyn.

“Die hoofoogmerk by KortBY is juis om weer ’n belangstelling in kortverhale te ontketen en skrywers aan te moedig om hulle weer tot hierdie verhaalvorm te wend. Omdat BY op meer intellektuele pitkos gemik is, het ons gedink dit sou iets wees wat ons lesers sou waardeer – en tot dusver kry ons heel goeie terugvoer,” sê Brümmer.

Ook Aucamp dink daar is “tekens van ontwaking” – hy meen die publiek het ’n behoefte aan ’n nuwe tydskrif wat “soos van ouds” ruimhartig verhale aan sy lesers bied.

Nou is die vraag: Sal die sirkulasiesyfers met hom saamstem?

Bronne: Aucamp, H. Kortverhale: Waar is die “sneeu van voorverlede jaar”? BY, bylae by Die Burger, 12 April 2008, p.13.