| INHOUD Home Editor's Letter TECHNOLOGY Reinventing the tube Keeping up with the Times J-blogging the best of both worlds? 'n Kykie na die veranderende eenoog-koning MXit worth its moola Techno impaired Mobile media: A threat? PEOPLE Solo journalism What the eyes do not see, does grieve the heart Beautiful journalism Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms? Can u sms it 2 me? Do you get your news? Die Burger vir die burgers The artist formerly known as the audience THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA Rebuilding the Chinese wall Politici en hul waghonde ENVIRONMENT Burning issue: A changing climate, a changing media Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal ART Kort aan kortverhale? "Teater van die gedagte" se swanesang? Gevra: 'n drukmedia Harry Potter Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies? SPORT Wat sport van vol is, loop die pen van oor Keeping the game alive...with "sportainment"   |   
        Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms Tydskrifte moet  voortdurend verander – ander stagneer hulle en is hulle gedoem. Maar hoe  verander dié getroue drukmedia-metgesel van vele in die lig van al die  tegnologiese ontwikkelings soos die internet? Amelia-May Woudstra het die  invloed van die internet op die toekoms van vrouetydskrifte in Suid-Afrika  ondersoek. Twintig jaar  gelede het die Suid-Afrikaanse tydkrifmark uit enkele groot publikasies bestaan  wat aan ’n wye spektrum van verbruikers se behoeftes voldoen het. Vandag bring  digitale ontwikkeling mee dat publikasies by die internet sal moet aanpas om  aan die moderne verbruikers se behoeftes te voldoen. 
 Koos Bekker,  uitvoerende hoof van Naspers en media-visioenêr, het onlangs in ’n onderhoud  gesê drukmedia se dae is getel: die toekoms is digitaal.
 
 Maar wat hou dié  ontwikkelings in die mediabedryf vir Suid-Afrikaanse vrouetydskrifte in? Veral  omdat breëbandtoegang in Suid-Afrika nog ’n probleem is.
 
 Volgens OMD se  jongste Media Facts 2008 is daar maar  slegs 5.1 miljoen internetgebruikers in Suid-Afrika. Elna Rosouw, ’n vorige  assistent-redakteur van rooi rose en  tans dosent in joernalistiek aan die Universiteit van Johannesburg, skryf in  haar meesters-tesis: “Waar daar eers net ’n tiental vrouetydskrifte was  waaruit lesers kon kies, is winkelrakke nou tot boordensvol met  glanspublikasies wat elke moontlike behoefte of begeerte van vroulike lesers  aanspreek.“
 
 Clare O’Donoghue,  redakteur van die tydskrif InStyle,  sê in die Augustus 2007-uitgawe van The  Media die vrouetydskrifmark het die afgelope tien jaar ontplof, wat  mededinging in die bedryf ’n paar grade warmer gemaak het.
 
 Dit word bevestig  deur die Media Facts 2008. Volgens  Rossouw het Suid-Afrika in 2004 meer as 400 hoofstroomtydskriftitels gehad. Die  meeste fokus op hoogs gespesialiseerde nismarkte en het gevolglik kleiner  sirkulasiesyfers.
 
 John Relihan,  hoof van Media24 Tydskrifte, sê in The  Media Online Review 2006: “Indien ’n tydskrif nie in die bedryf aanpas nie,  sal die gevolg daarvan duidelik in die verkoopsyfers weerspieël word. Ons  vasteland is ’n diverse en fassinerende deel van die res van die wêreld en die  inhoud, styl en produksiewaardes van tydskrifte moet voortdurend aangepas word  om aan ’n spesifieke mark se vereistes te voldoen.“
 
 Volgens Rossouw  het die voorkoms en samestelling van tydskrifte in die Suid-Afrikaanse  verbruikersmark radikaal verander gedurende die laaste twee dekades.
 
 Hierdie  fragmentasie in die Suid-Afrikaanse vrouetydskrif-mark het byna oornag gebeur  en daar is geen twyfel dat die koms van vrou-gerigte nistydskrifte die landskap  van Suid-Afrikaanse vrouetydskrifte heeltemal verander het nie. Volgens Rossouw  fokus nistydskrifte vandag op bepaalde vrou-gerigte onderwerpe soos huis,  dekor, tuin, kos, gesondheid, leefstyl, handwerk en ouerskap.
 
 Asof die “nissifisering“ van  die mark, wat in al hoe kleiner fragmente splinter, nie genoeg is nie, is die  internet ’n verdere uitdaging. Gaan vrouetydskrifte en die internet teenoor  mekaar te staan kom of verenig om te oorleef in ’n uiters kompeterende  mediabedryf?
 
 In die Augustus  2007-uitgawe van The Media sê Patricia Scholtemeyer, Suid-Afrika se sogenaamde magazine queen en vorige uitvoerende  hoof van Media24 Tydskrifte, verbruikers se smake en voorkeure verander vinnig  en voortdurend. Daarom moet uitgewers altyd twee treë vooruit wees om die  toekomstige verloop van tendense in die verbruikersmark raak te sien.
 
 Maar wat in dié  verhouding tussen die internet en vrouetydskrifte gaan gebeur, is op die  oomblik bloot nog ’n raaisel, want sulke vooruitskattings is noodwending  gebaseer op aannames wat onderhewig is aan die onvoorspelbaarheid van die  verbruiker se smake en voorkeure.
 
 Die gevestigde  titels en handelsmerke word vandag nog as belangrike rolspelers in die  Suid-Afrikaanse tydskrifbedryf beskou. Rooi  rose het in April 1942 verskyn, en op 1 Julie 1949 is die eerste uitgawe  van Sarie Marais (vandag net SARIE en Suid-AFrika se voorste  vrouetydskrif) uitgegee, met Fair Lady (vandag FAIRLADY) wat in 1967 op die  rakke verskyn het.
 
 Rossouw skryf in  haar tesis, Die Fragmentasie in die Suid-Afrikaanse  vrouetydskrifmark: die invloed van “vrougerigte“ nistydskrifte op die “tradisionele algemene belangstelling“, daar is voorheen wêreldwyd nie veel  aandag deur die hoofstroom-massamedia aan die vroue gegee nie. Dit kan  toegeskryf word aan ’n minderwaardige rol wat vroue in die samelewing vertolk  het, en die reklamewese wat nog nie so ’n manupileringsmag was nie.
 
 Prof. Lizette  Rabe skryf in haar meesterstesis, Die  ontstaan en die ontwikkeling van Sarie Marais as massa-tydskrif vir die  Afrikaanse vrou, daar is voor die verskyning van SARIE nie veel gedoen aan vrytydleesstof vir die “ontwikkelde“  Afrikaanse vrou nie. Sy moes tevrede wees met die genoemde vrouetydskrifte of  die rubrieke in bestaande tydskrifte soos Huisgenoot en Landbouweekblad.
 
 Die Engelse  vrouetydskrifmark het aansienlik ontwikkel met die koms van internasionale  vrouetydskrifte. In 1984 is Cosmopolitan deur Jane Raphaely se Associated Magazines ver-Suid-Afrikaans en onder lisensie  saam met Media24 (toe Nasionale Tydskrifte) uitgegee. Dit is in 1990 gevolg  deur die Franse tydskrifte Elle, in  1997 deur marie claire en in 2000 met The Oprah Magazine, O.
 
 SMF het met  medialeiers, uitgewers en redakteurs van onder meer FAIRLADY, Leef met hart & siel, Femina, Psychologies, Tuis en Home per e-pos onderhoude gevoer om te  hoor wat hulle dink die toekoms vir vrouetydskrifte in Suid-Afrika inhou.
 
 Volgens Ton  Vosloo, voormalige uitvoerende hoof van Naspers, moet tydskrifte hulself  wêreldwyd herposisioneer met die koms van die digitale era.
 
 Media24  Tydskrifte skep so digitale uitgawes en ontwikkel spesialis-afdelings as  alleenstaande titels in die vorm van nistydskrifte.
 
 “Daar is meer optimisme by Media24 Tydskrifte oor hul toekoms in gedrukte  vorm as by koerantredakteurs. Vanweë tydskrifte se langer koopfrekwensie,  meestal maandeliks, is vrouetydskrifte minder kwesbaar teen die frenetiese  daaglikse aanslag van die internet.“
 
 Verder , sê  Vosloo, bring die internet onmiddellike nuus, en baan die weg vir rustiger  agtergrond-artikels wat ook op die internet geplaas kan word. Vroue raak  verknog aan tydskrifte wat hulle as hul eie toe-eien, sê hy.
 
 “Vroue waardeer die taktiele gevoel van goeie papier, keurige drukwerk, puik  illustrasiemateriaal en die intimiteit wat gunstelingrubriekskrywers meebring.“  Dit ontbreek op die internet, sê Vosloo.
 
 “Maar, hierdie benadering kan dalk oor die lange duur onverstandig blyk,  want leespatrone kan anders kristalliseer oor ’n paar jaar wanneer die internet  met sy breëband in Suid-Afrika deeglik in aksie is.
 
 “Dan kan bevind word dat die jonger geslag by ons ook nie meer tydskrifbewus  is nie, soos nou reeds die geval is by dagblaaie. Maar Media24 Tydskrifte se  ondervinding is tans dat vroue oorsee, waar daar reeds sterk breëbandinternet  is, nog gereeld hul gunstelingvrouetydskrifte koop. Dit is asof vroue tog  periodiek ’n stil tyd van afsondering soek met ’n vertroude tydskrif in die  hand as teenmiddel teen die gejaagde lewe waarin sy haarself bevind, en dit  behoort vir Media24 se vrouetydskrifredakteurs rede tot volgehoue geloof in die  voortbestaan op volhoubare basis van hul tydskrifte te gee.“
 
 Uit onderhoude  met redakteurs en uitgewers Heather Parker, Anneke Blaise, Charlene Beukes,  Suzy Brokensha en Christine Ferreira blyk dit dat daar op tydskrifte se inhoud,  handelsnaam, sosiale netwerke, idees en ideale gesteun word om die titels se  identiteit te behou in hul digitale vorm.
 
 Hoewel die  internet ’n “bedreiging“ inhou vir vrouetydskrifte, wil uitgewers eerder toesien dat tydskrifte  hul kenmerkende formaat behou, maar aanpas by die internet, deur gebruik te  maak van kuber-geselsruimtes, elektroniese gebedskamers, inspirasie e-posse,  vinnige mode- en skoonheidswenke en selfs resepte en reisgidse om die  interaksie tussen die tydskrif en die leser te verbeter.
 
 Verder word van  redakteurs verwag om nie net goeie redakteurs te wees nie, maar om  mediabestuurders te wees. Hulle moet die nismark verstaan, hul  tydskrif-handelsnaam ontwikkel en fokus op goeie inhoud, maar moet ook regverdige  bestuurders, slim bemarkers, selfversekerde openbare sprekers en kundige  sakevroue wees, sê O’Donoghue in ’n The Media-onderhoud.
 
 Michélle van  Breda, redakteur van SARIE , sê: “Wat vandag werk, sal  heel moontlik nie more werk nie. In die tydskrif-wêreld is daar nie so iets  soos ’n vyf-jaar-plan nie.“
 
 Tydskrifte word  nie net deur die internet gekonfronteer om hulself gedurig te herdefinieer nie.  Deeglike bemarking is ook ’n noodsaak.
 
 Daar maak sommige  tydskrifte soos Leef met hard & siel staat op die produk se oorhoofse handelsnaam. Die Leef-tydskrif word steeds as die vlagskipproduk beskou, maar met  ander splinterprodukte kan tydskrifte verdere uitbreidings soos aanlyndienste  ontwikkel onder die dak van die handelsnaam en so steeds aan verbruikers se  behoeftes voldoen en aanpas.
 
 ’n Mens kan dus  voorlopig sê die verhouding tussen vrouetydskrifte en die internet kan  waarskynlik tot groot vernuwing lei. Dan sal vrouetydskrifte getrou moet bly  aan dit wat hulle uniek maak: inhoud, voorkoms en handelsmerk.
     |