Akademiese Programme: Honneurs
HONNEURSPROGRAM IN GESKIEDENIS 778
Die honneursprogram is ’n eenjarige (voltydse) of tweejarige (deeltydse) program wat op die grondige bestudering van temas uit die Teorie van Geskiedenis, Internasionale geskiedenis, Suid-Afrikaanse geskiedenis en Afrika-geskiedenis gerig is.
Die duur van die voltydse program is een akademiese jaar. Deeltydse studente struktureer hulle program oor ’n tydperk van twee jaar op só ’n wyse dat hulle lesings saam met die voltydse studente kan bywoon.
Toelatingsvereistes
Studente wat beskik oor `n BA-graad met Geskiedenis (of Kultuurgeskiedenis) as hoofvak, waarin minstens 60% behaal is, asook studente wat die BA (Internasionale Studie)-graad aan die US verwerf het en die onderstaande modules met 'n gemiddelde van 60% geslaag het:
Geskiedenis
- 114(12) Inleiding tot die vernaamste globale patrone en ontwikkelinge in geskiedenis
- 144(12) Oorsig oor die Suid-Afrikaanse Geskiedenis
- 214(16) Sleutelprosesse in Westerse Wordingsgeskiedenis
- 318(24) Oorloë, dekolonisasie en globalisering
Politieke Wetenskap
- 232(8) Politiek en Buitelandse Beleid van die VSA
- 262(8) Internasionale Organisasies
- 315(12) Politieke konflik
- 364(12) Internasionale betrekkinge van Afrika
Skriftelike aansoeke, wat ’n volledige studierekord insluit, moet gewoonlik voor 30 November van elke jaar ingedien word.
’n Formele aansoek om registrasie is slegs nodig sodra ’n student vir ’n program aanvaar is. Studente wat nie aan die vereiste standaard van 60% voldoen nie, kan spesiale oorwegings vir toelating indien.
Programstruktuur en -inhoud
Die inhoud van die honneursprogram bestaan uit die teoretiese modules van Geskiedenis, wat verpligtend is, plus ’n keuse van twee modules van die departementele spyskaart.
Teoretiese modules (verpligtend)
- Teoretiese en filosofiese kwessies
- Metodologie
- Tendense in internasionale historiografie
- Tendense in Suid-Afrikaanse historiografie
Vir kultuurgeskiedenis raadpleeg inhoudsmodules in spyskaart
’n Keuse van TWEE modules van die departementele spyskaart
Indien een van u spyskaart keuses die kultuurgeskiedenisopsie is moet u spesifieke keuse binne hierdie opsie met die betrokke dosent en die Departementele Voorsitter uitgeklaar word
- Historiese faktore in die skep van minderheidskulture: die skep van wit en bruin identiteite in 20ste-eeuse Suid-Afrika
- Afrikaner-diaspora: die veranderende rasionaal vir migrasie, 1875-2002
- Omgewingsgeskiedenis: samelewing, natuur en die veranderende omgewing [Kliek hier vir die volledige kursusraamwerk vir hierdie module. Hierdie dokument maak in ’n nuwe venster oop.]
- Besigheidsgeskiedenis
- Werkersklasgeskiedenis en arbeidsorganisasie
- Oorlog en die samelewing: konteks en gevolge
- Geskiedenisse van die liggaam [Kliek hier vir die volledige kursusraamwerk vir hierdie module. Hierdie dokument maak in ’n nuwe venster oop.]
- Kultuurgeskiedenis. ’n Keuse van onder meer die volgende modules: argitektuur, meubelkunde, volkswoordkunde, volkswetenskap en -geloof, genealogie/heraldiek, erfenisbewaring, Westerse kultuurstrominge, Navorsingsmetodologie en Kultuurgeskiedenis as wetenskap.
Metodes en vereistes ten opsigte van die modules
- Die duur van ’n module is sewe weke (een kwartaal). Die modules word deur studiemateriaal, ’n getal opdragte en ’n eksamen gedek.
- Kontaksessies word deur die dosent bepaal. Hy/Sy bepaal ook die spesifieke datums waarop opdragte ingelewer moet word. Dit staan studente vry om dosente in verband met moduleverwante sake te kontak.
- Afgesien van die moduleverwante opdragte moet studente ook as deel van die honneurskursus een gevorderde navorsingswerkstuk inhandig. Die navorsingswerkstuk moet verkieslik met een van die twee modules wat die student van die departementele spyskaart gekies het, verband hou. Die keuse/titel van die navorsingswerkstuk word in oorleg met die aanbieder/dosent van die spesifieke spyskaartopsie bepaal.
- Die werkstuk moet tussen 10 000 en 12 000 woorde in omvang wees en moet op ’n keuse van ongeveer 12 tot 15 standaardbronne gebaseer wees. Algemene geskiedeniswerke, ensiklopedieë, naslaanwerke, chronologiese woordeboeke, ens. word nie as standaardbronne beskou nie.
- Die tegniese aspekte van die werkstuk moet ooreenkom met die departementele riglyne soos dit tydens die voorgraadse programme aan studente voorgehou is. Die navorsingswerkstuk moet in getikte formaat wees.
- Studente sal op grond van die module-opdragte ’n klaspunt vir elke module ontvang. Afgesien van die klaspunt sal studente ook ’n eksamenpunt ontvang deur ’n eksamen per semester af te lê oor die modules wat tydens daardie semester voltooi is. Die finale punt per module word bereken op die basis van 50% van die klaspunt plus 50% van die eksamenpunt. Die finale punt vir die honneurskursus sal bereken word deur die totaal van finale modulepunte deur agt te deel (ses modules plus die navorsingswerkstuk). Om die honneurskursus te slaag, moet die student ’n finale punt van minstens 50% behaal.