Akademiese Programme: MA Gestruktureerd (1 Jaar)

MA-PROGRAM IN GESKIEDENIS (Een jaar – gestruktureerd) 888

Die kursusse is probleemgerig en die onderwerp van die tesis word streng afgebaken.

Toelatingsvereistes

Om tot hierdie program toegelaat te word, moet kandidate:

  • oor ’n honneursgraad in Geskiedenis of Kultuurgeskiedenis beskik, met ’n minimum slaagsyfer van 60%
  • voor 30 November ’n skriftelike aansoek met ’n uitvoerige studierekord indien, en indien nodig vir ’n persoonlike onderhoud beskikbaar wees. ’n Formele aansoek om registrasie is slegs nodig sodra ’n student vir ’n program aanvaar is;
  • ’n formele kontrak met die departement aangaan wat die pligte en verantwoordelikhede van albei partye uiteensit.
  • Studente wat nie aan die vereiste standaard van 60% voldoen nie, kan spesiale oorwegings vir toelating indien.

Programstruktuur en -inhoud

Hierdie program bestaan uit ’n gestruktureerde komponent en ’n tesis.

Die gestruktureerde komponent

’n Keuse van TWEE modules van die departementele spyskaart

Indien een van u spyskaart keuses die kultuurgeskiedenisopsie is moet u spesifieke keuse binne hierdie opsie met die betrokke dosent en die Departementele Voorsitter uitgeklaar word.

  • Historiese faktore in die skep van minderheidskulture: die skep van wit en bruin identiteite in 20ste-eeuse Suid-Afrika
  • Afrikaner-diaspora: die veranderende rasionaal vir migrasie, 1875-2002
  • Omgewingsgeskiedenis: samelewing, natuur en die veranderende omgewing
  • Besigheidsgeskiedenis
  • Werkersklasgeskiedenis en arbeidsorganisasie
  • Oorlog en die samelewing: konteks en gevolge
  • Geskiedenisse van die liggaam [Kliek hier vir die volledige kursusraamwerk vir hierdie module. Hierdie dokument maak in ’n nuwe venster oop.]
  • Kultuurgeskiedenis. ’n Keuse van onder meer die volgende modules: argitektuur, meubelkunde, volkswoordkunde, volkswetenskap en -geloof, genealogie/heraldiek, erfenisbewaring, Westerse kultuurstrominge, Navorsingsmetodologie en Kultuurgeskiedenis as wetenskap.

Metodes en vereistes ten opsigte van die modules

  • Elke module word oor ’n tydperk van sewe weke (een kwartaal) aangebied en sluit studiemateriaal, opdragte en ’n eksamen in. Die dosent bepaal die lengte van die opdragte. (Kultuurgeskiedenis word in blokkursusse van een week elk aangebied.)
  • Die dosent bepaal die kontaksessies. Die dosent bepaal ook die spesifieke datums waarop opdragte ingelewer moet word. Dit staan studente vry om, afgesien van die formele kontaksessies, afsprake met dosente te reël om aspekte van die werk te bespreek.
  • Afgesien van die opdragte wat vir die gestruktureerde komponent voltooi moet word, moet studente ook een navorsingswerkstuk as deel van die gestruktureerde komponent voltooi. Die navorsingswerkstuk moet fokus op ’n aspek van een van die twee inhoudsmodules (een van die opdragte kan tot ’n werkstuk uitgebrei word) wat die student gekies het van die spyskaart van spesialisvelde wat deur die departement aangebied word. Die algemene riglyn is dat die navorsingswerkstuk nie langer as 5 000 woorde moet wees nie en dat dit op ongeveer 12 tot 15 standaardbronne gebaseer word. Algemene geskiedeniswerke, ensiklopedieë, naslaanwerke, chronologiese woordeboeke, ens. word nie as standaardbronne beskou nie.
  • Benewens die navorsingswerkstuk moet die student ’n navorsingsvoorstel vir die onderwerp van sy/haar tesis ontwikkel. Dit moet 2 500 tot 3 000 woorde lank wees en uit die volgende komponente bestaan:
    • Probleemstelling en fokus
    • Voorafstudie en rasionaal
    • Doelwitte, teoretiese raamwerk en hipotese(s) of navorsingsvrae
    • Navorsingsontwerp en metodes
    • Tydraamwerk en voorlopige hoofstukuiteensetting
    • Impak
    • Aansluiting by departementele programme
    • Bibliografie
  • Die tegniese versorging en uitleg moet ooreenkom met departmentele voorskrifte soos tydens die voorgraadse programme aan studente voorgehou is. Die navorsingswerkstuk en die navorsingsvoorstel moet in getikte formaat ingedien word.
  • ’n Klaspunt vir elke module word op grond van die studente se opdragte toegeken. Afgesien van die klaspunt ontvang die studente ook ’n eksamenpunt deur ’n eksamen per semester af te lê oor die modules wat tydens daardie semester voltooi is. Die finale punt per module word bereken op die basis van 50% van die klaspunt en 50% van die eksamenpunt.

Die tesis

Studente moet in gedagte hou dat die wyse keuse van ’n navorsingswerkstuk tydens die gestruktureerde deel van die program reeds een tree in die regte rigting is. Die onderwerp van die tesis kan enige tyd tydens die loop van die studie gekies word. Die student moet ’n formele navorsingsvoorstel voorlê.

Die onderwerp van die tesis moet verkieslik relevant wees tot die spyskaartopsies van die gestruktureerde komponent van die program. Dit staan studente vry om met enige van die dosente wat vir die gestruktureerde komponent van die program verantwoordelik is oor ’n tesisonderwerp te onderhandel. Indien hulle probleme ondervind om ’n besluit hieroor te maak, kan hulle die departementele voorsitter raadpleeg. Die lengte van die tesis moet beperk word tot tussen 100 en 150 bladsye. Die tesis word in alle opsigte volgens die voorskrifte in die Jaarboek bestuur.