Akademiese Programme: MPhil

MPHIL IN KULTUURTOERISME EN ERFENISSTUDIES (Twee jaar – gestruktureerd) 897

Hierdie program word gesamentlik deur die Departemente van Geskiedenis, Geografie en Drama aangebied. Dit is ’n tweejarige program wat volg op ’n BA-graad (enige hoofvak) en ’n BPhil-uittrede na een jaar toelaat. Die program loop voltyds vir twee jaar.

Toelatingsvereistes

’n BA-graad met enige hoofvak. Skriftelike aansoeke, wat ’n volledige studierekord insluit, moet gewoonlik voor 30 November van elke jaar ingedien word. ’n Formele aansoek om registrasie is slegs nodig sodra ’n student vir ’n program aanvaar is.

Programinhoud en -samestelling

Hierdie program fokus op die raakpunte tussen toerisme, kultuurerfenis en geskiedenis as verteenwoordiging van die verlede. Die ruimte- en tydsperspektief van geografie asook die streeksbeskrywende en sintetiserende elemente daarvan (soos in GIS-toepassings vergestalt) is geïnkorporeer, asook Drama se sistemiese ondersoek van die kunste in Suid-Afrika. Die klem val op die sinergie tussen hierdie benaderings. Die produkte van ’n erfenis kom nie in ’n vakuum tot stand nie en kan nie eenvoudig op sigwaarde aanvaar word nie. Die visie wat hierdie beoogde program rig is derhalwe om ’n akademiese grondslag te bied vir die studie van die prosesse wat tot die totstandkoming van ’n erfenis lei asook die wyses waarop daardie erfenis in die konteks van toerisme openbaar word.

Al die modules is nuutgeskep. Die program bestaan uit ses verpligte modules en ’n omvangryke opdrag wat op navorsing gebaseer is. Na een jaar, na die voltooiing van die eerste vier modules, kan die kandidaat met ’n BPhil-graad uittree.

Modules

  1. Toerisme as verskynsel
  2. Die produksie en kommodifisering van ’n historiese erfenis
  3. Vertonings, feeste en die kunstestelsel as elemente van kultuurtoerisme
  4. Die sosio-kulturele en omgewingsimpak van toerisme
  5. Kultuurbronne en streekstoerisme
  6. Museums, argitektoniese style en bewaring